07/11/2023
GROOT PLANT DAG VIR NOVEMBER
Daar is altyd een dag in die maand wanneer jy alle sade kan plant, blomsade sowel as groente sade. En daardie datum is 2 dae voor NUWE MAAN en die volgende datum vir November 2023 is SATERDAG, 11 NOVEMBER. Doen nou al jou beplanning vir wat jy gaan aanplant om te eet vanaf Januarie/Februarie.
Ek hoop jy is gereed met jou sade, saailing medium, jou kompos ekstrak water en jou saailingbakkies. Anders is hierdie naweek die beste tyd om dit bymekaar te maak, sodat volgende saterdag jou nie onkant betrap nie. Alle sade wat nou geplant word, kan einde November in die grond geplaas word.
Die groente wat jy nou plant, gaan geoes word vanaf middel Januarie en Februarie. Gewoonlik plant ek my laaste somer groente saad in Januarie en Februarie, om die vroeë ryp van April/Mei vry te spring en ‘n laaste somer oes in te bring voor die laat herfs.
Plant direk in die grond jou wortels, boontjies en mielies.
Plant in saailing bakkies die volgende:
Beet; spriet uie; gras uie; kool; pietersielie; blaarslaai; roket; cilantro; basielkruid; dill; fennel; spinasie; tamaties; komkommer; pampoen; butternut; skorsie; patty pan; baby marrow; waatlemoen; spanspek; mielies; eiervrug; soetrissies en rissies.
Die saailinge in bakkies moet nou onder dak geberg word sodat die reën en die warm son nie jou aanplantings benadeel nie. Moenie aanhoudend water van bo af toedien nie, gee liewer water van onderaf, of gebruik ‘n baie fyn missproei. Maak seker dat jou saailingmedium voldoen aan genoegsame belugting (nie te swaar grond nie) en ook genoegsame grond organismes in die materiaal. Indien jy twyfel, kyk gerus na ons video oor SUKSES MET SAAILINGE, wat beskikbaar is vir aankope by Tessa 066 326 6321.
Ek ervaar dat daar nog baie vrae oor groente daarbuite is onder ons tuinier kliënte, soos insekte peste en plant siektes en plant vrektes. Hierdie week maak ek my wattsup oop vir sulke probleem hantering. 082 331 5434. Laat weet my wat jou grootste probleme is wat jy ervaar in jou groente tuin, of kom ons noem dit liewer jou kopsere, en ek sal tussenin die werk op die plaas probeer om jou probleme aan te spreek. Ons leer alleenlik deur foutering en die regstelling van daardie foute. Glo my, ek leer nog elke dag op foute wat ons maak. Die oplossing is om daardie foute te korrigeer voordat jy gryp na ‘n botteltjie gif of net moed opgee.
In tuinmaak is daar aksies wat uitgevoer word en elke aksie het ‘n reaksie in jou grond en op jou plante. Kom ons leer om daardie verkeerde aksies te korrigeer, en ‘n fantastiese groente oes af te haal.